{ 18 April 2025 }
Goeie Vrydag
10:30 - 13:00
Sportgronde
Vredefort
Via Dolorosa – the sorrowful way! ’n Staptog van 3 km deur ’n Vrystaatse
dorpie, om die wonderlike verlossingswerk van Jesus Christus
aan die kruis te vier. ’n Onvergeetlike ervaring van sang, musiek, simboliek
en kruis-dra in die hart van die pragtige Vredefort Koepel!
Aangebied deur : Gemeenskap van Vredefort
Waar het dit begin?
Paasfees is ‘n baie besondere tyd van die jaar. Iemand het eendag gesê in die middel van die tydlyn van ons aardse geskiedenis is daar ‘n kruis, en alles voor die kruis het vorentoe daarna verwys, en alles na die kruis, verwys terug daarna. Die belangrikste gebeurtenis in mense heugenis het plaasgevind 2000 jaar terug toe Jesus aan die kruis uitgeroep het: “Tetelestai! Dit is volbring!”
‘n Groep mense van Vredefort dorp en distrik het 4 jaar gelede saamgekom om te bespreek: Wat gaan ons doen om hierdie wonderlike gebeurtenis opnuut betekenis te gee in ons dorp en omgewing? Ons het na iets meer gesoek as net ‘n erediens op Goeie Vrydag oggend. Die Kruistog idee het daaruit voortgespruit, en ‘n groep passievolle mense uit verskeie agtergronde het dadelik weggespring om die geleentheid te reël. Hierdie groep is nie denominasie- of kerkgebonde nie, maar verwys graag na hulleself as doodgewone lede van die gemeenskappe van Vredefort en Parys.
Wat is die doel?
Die Kruistog het ten doel om mense ‘n belewenis te gee van die pad wat Jesus moes stap na sy eie kruisiging op Golgotha. Ons gebed is dat ons op hierdie dag nie net ‘n betekenislose roete sal stap deur Vredefort nie, maar dat ons sal besef dat die Via Dolorosa eintlik vir ons bedoel was. Dat ons na gelang van die roete ‘n ontmoeting met Jesus in ons harte sal hê, en ons dankbaarheid teenoor Hom sal uitspreek vir die lyding wat Hy in ons plek deurgegaan het. Vir Jesus was dit ‘n pad van geweldige pyn en lyding en beproewing, maar vir ons word die Kruistog ‘n pad van diepe dankbaarheid, vreugde en lofprysing tot eer van die Koning van die konings, Jesus Christus, wat die dood oorwin het en vir ons die weg na die ewige lewe gebaan het!
Hoe gaan dit werk?
Daar is ‘n roete van 3km uitgelê deur Vredefort dorp. Elkeen wat deelneem bring ’n kruis saam om die roete saam met die konvooi te stap. Die dag se bedrywighede skop af om 10:30 op die 29ste Maart 2024, Goeie Vrydag. Almal kom by die Sportgronde van Vredefort bymekaar. Aanwysings na die sportgronde sal onder aan die blad gevind kan word. Parkering sal aangewys word. Daar gaan ‘n 3000 sitplek tent opgeslaan word waarbinne die verrigtinge gaan plaasvind, en elkeen is welkom om homself tuis te maak enige plek binne die tent. Die verrigtinge sal aangekondig word soos wat die program verloop. Vredefort se eie talentvolle sangers tree op in ‘n voorprogram van 10:30 tot 11:00 op die verhoog. ‘n Kinderprogram word aangebied by die kinderarea agter die verhoog van die groot tent. Ouers is welkom om hulle kinders in die bekwame hande van El Sali-kleuterskool se personeel te los vir ‘n gepaste kleuterprogram, en hulle later te enige tyd weer te kom haal tydens die dag se verrigtinge. Daar sal genoeg kos- en koeldrankstalletjies langs die veld wees, en diegene wat hulleself wil opvul vir die Kruistog is welkom om daar ‘n draai te maak vanaf 10:00 die oggend. Na afloop van die openingsrede om 11:00 word daar ‘n lofprysing- en aanbiddingsprogram aangebied deur Vredefort se eie bekwame sangers Richann Brussouw en Andries D’Alebout. Na afloop van die samesang word die Kruistog reëlings oorgedra en nagmaal word ingestel. Na afloop van die nagmaal beweeg almal buite die tent om die Kruis-formasie te doen. Dit is in die vorm van ‘n groot kruis wat uitgemerk is op die rugbyveld. Almal staan rondom die lyne, en die fotograwe neem ‘n foto uit die lug. Daarna (rondom 12:00) sal die Kruistog ‘n aanvang neem, en sal die Kruistoggangers genooi word om die vlotte te volg vanaf die sportgronde op die roete. Die idee is dat soveel as moontlik mense met hulle kruise sal stap. Die pas sal gematig wees, en kinders sowel as bejaardes sal gemaklik kan stap, en elkeen kan teen sy eie tempo vorder. Mense is welkom om in groepe, of as individue te stap, daar is nie reëls met betrekking tot die stap nie. Die roete behoort nie meer as ‘n uur te neem nie. Vir diegene wat nie kans sien om te stap nie, sal daar verskeie wildsbesigtiging-voertuie wees wat mense kan neem op die roete. Sou daar verder behoefte wees, kan Kruistoggangers ook met hulle voertuie agter die konvooi aanry, alhoewel ons graag voertuie in die konvooi so min as moontlik probeer hou ter wille van verkeersreëlings.
Soos wat die Kruistog terugkeer na Vredefort Sportgronde, sal elkeen wanneer hy onderdeur die rugbypale gaan ‘n aandenking ontvang. Almal is dan welkom om iets te ete te kry en te ontspan terwyl die musiekspan verdere lofprysing- en aanbidding op die verhoog gaan doen. Daar gaan ook ‘n afsonderlike bedieningstent wees, waar enige iemand heen kan gaan vir gebed en berading soos wat daar behoefte daarvoor ontstaan. Mense is welkom om lekker saam te sing, net te sit en luister, tyd in gebed deur te bring, die wonderlike atmosfeer net in te neem, of om gesellig saam met jou familie piekniek te hou terwyl die musiek in die agtergrond speel. As jy graag ‘n piekniek mandjie, of jou eie eet- en drinkgoed wil saambring, wees welkom!
Die roete
Die roete van die Kruistog is ‘n rapsie korter as 3km, en gaan simbolies van aard wees met borde en uitbeeldings van die lewe en verhaal van Jesus Christus. Die lamppale gaan elkeen ‘n storie vertel van wat Jesus gedoen het, en wat die implikasie vir ons as gelowiges is.
Na gelang van die roete sal daar verskillende stasies wees wat elkeen iets uitbeeld uit die lewe en bediening van Jesus. Hierdie stasies is elke jaar anders en uniek en beeld weer iets nuut en vars uit van dit wat Jesus op aarde gedoen en geleer het.
Die roete van die Kruistog begin by Vredefort Sportgronde, aan die bopunt van Eerstelaan in Vredefort. Van daar beweeg die konvooi heeltemal af in Eerstelaan tot by Voortrekkerstraat (Hoofstraat van Vredefort). Ons gaan dan links in Voortrekkerstraat tot by Oranjestraat. In Oranjestraat beweeg die konvooi op tot by Dewetstraat. Ons draai links in Dewetstraat en beweeg tot by Eerstelaan. Daar word regs gedraai in Eerstelaan, en met Eerstelaan opbeweeg tot by die beginpunt by Vredefort Sportgronde. Sien ook die kaart van die roete hier onder.
Hoekom dra ons kruise?
Die kruis wat ons saamdra is simbolies van die kruis wat Jesus in Luk. 9:23 van praat: “En Hy sê vir almal: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg” Luk 9:23. Ons kruis is nie Jesus se kruis nie, ons kruis is om versoeking te weerstaan, ons eie vleeslike begeertes dood te maak, en Hom gehoorsaam te wees in alles. Daarom is ons kruise baie kleiner en ligter as Syne. Wanneer ons kruise saamdra op die Kruistog, herinner dit ons aan die geweldige prys wat Jesus betaal het, maar ook aan die “min” en die “klein” wat Jesus van ons as gelowiges vra teenoor die groot, swaar kruis wat hy namens ons moes dra.
Waar kry ek ‘n kruis?
Die kruis kan enige vorm aanneem, en elkeen besluit self watse kruis hy wil saambring, en hoe hy moet lyk. Ons wil jou graag uitnooi om kreatief te wees! Sommiges maak kruise van goedkoop hout-stokkies soos verestoffer stokkies, of besemstokke. Andere het dalk iewers in sy huis reeds ‘n klaargemaakte kruis wat hy kan saambring, sommige vat twee planke en slaan hulle met spykers aanmekaar. Sommige kruise is geverf en versier, ander is net gewone skoon hout. Die idee is dat niemand s’n dieselfde lyk nie, net soos wat niemand van ons se geestelike kruis dieselfde lyk nie. Daar is vrywilligers in die gemeenskap van Vredefort wat 500 kruise gaan maak en uitdeel vir mense wat nie saamgebring het nie. Almal is welkom om ook daarvan te neem wanneer die geleentheid daarvoor gegee word.
Wat kos dit?
Die Kruistog asook alle aktiwiteite wat daarmee saamgaan is gratis. Daar is geen toegangsgelde of kollektes nie. Die organiseerders maak staat op eie fondse, borge en skenkings vir alle uitgawes, en wil graag ook so tot seën van die gemeenskap wees. As jy voel jy wil graag ‘n bydrae maak tot die kostes van die geleentheid en die voorbereidings, sal ons dit geweldig baie waardeer. Stuur gerus vir ons ‘n epos of whatsapp na die onderstaande kontak besonderhede, en ons sal graag met jou in verbinding wil tree. Die Kruistog se bankbesonderhede is as volg:
DIE KRUISTOG
Capitec Spaar rekening
Rekening nommer: 193 138 6550
Tak kode: 470 010
Ons wil ook graag mense vra om fisies betrokke te raak, nie net finansiëel nie. Om deel te wees van die voorbereidings en werk aan die Kruistog saam met ‘n spesiale klomp mense is ‘n groot seën, en elkeen se hulp word geweldig waardeer!
Die stalletjies wat kos en koeldrank verkoop tydens die Kruistog, doen so vir eie wins en daar word geen fondse na die Kruistog of enige organisasie of individu toe gekanaliseer nie.
Wie word almal genooi?
Die uitnodiging is oop vir almal uit alle vlakke van die samelewing. Ons gebed is dat medegelowiges die roete sal stap, en besef watse groot werk Jesus vir ons gedoen het. En dat sondaars die roete sal stap, en Jesus as hulle Redder daarop ontmoet. Maar dat elkeen wat deelneem sal huistoe gaan met ‘n brandende hart vir Jesus Christus!
Wat bring ek saam?
‘n Hoed en sonskerm (sambreel is dalk ook ‘n opsie)
‘n Kruis (tuisgemaak of gekoop, enige vorm of grootte)
‘n Kampstoel (daar sal ‘n stoele wees maar bring kampstoele saam as jy kan)
‘n Paar rand (vir die kos- en koeldrankstalletjies)
Gemaklike klere (die drag is informeel)
Gemaklike stapskoene
Die Vlotte
Vir die eerste keer in die geskiedenis word daar elke jaar met die Kruistog volwaardige “vlotte” gebou in Vredefort. Vlotte is ‘n bekende gesig tydens die jaarlikse “Jool” van die universiteit in Potchefstroom. Die jeug van Dinamika gemeente in Vredefort het in 2022 ‘n vlot gebou van ‘n groot wit kruis om die Kruistog te lei op Goeie Vrydag. Daar is hard gebou aan hierdie vlot wat 5m hoog is en net-net onder Vredefort se kraglyne sal deurgaan. Die kruis bevat omtrent 44 000 plastiek blommetjies wat elkeen met die hand gevou is. Dit het aanvanklik gelyk na baie harde werk, maar toe die jonges en kinders inspring het dit meer pret en plesier geword as werk.
In 2023 het die jeug nog ‘n vlot gebou wat die leë graf na Jesus se opstanding voorstel. Hierdie vlot het die boodskap uitbasuin: JESUS LEEF! En die voorstelling van die leë graf is ‘n inspirasie vir elkeen wat dit sien. Hierdie vlot word weer vanjaar gebruik tydens die Kruistog.
In 2024 het mense van alle ouderdomme, dwarsdeur die gemeenskap ‘n spesiale vlot gebou wat die wederkoms van Jesus Christus voorstel. Hierdie vlot sal weer vanjaar in die konvooi wees saam met die nuwe vlot van 2025.
Hierdie jaar word daar hard gewerk aan ‘n vlot wat ‘n groot kroon gaan voorstel. Hierdie kroon is die simbool van Jesus se koningskap en heerskappy oor ons lewens, ons gemeenskap en alles wat bestaan. Ons het ‘n span wat voltyds deur die week daaraan werk, terwyl daar elke Vrydagaand “gebou” word aan die vlot deur die blommetjies in te pak. Enige iemand wat graag hiermee behulpsaam wil wees is welkom om vir Paul Joubert te kontak by 071 116 1755.
Die dorp-opruimingsprojek
Omdat ons graag ons dorp mooi wil hê vir die Kruistog, het ons besluit om ‘n bietjie aandag te gee aan ‘n paar probleemplekke. Ons span het die munisipaliteit gaan sien, en ‘n goeie samewerkingsooreenkoms het begin om Vredefort netjies te kry. Oor die afgelope paar weke het ‘n hele klomp vrywilligers ingespring en begin help. Bome is gesaag, daar is gras gesny, geboue is geverf, sypaadjies mooi gemaak, rommel weggery. Maar soos wat ons gegaan het, het die werk kleintjies gekry en daar is nog baie om te doen. Ons wil graag die dorp se ingange mooi maak, parke se beddings regmaak, besighede help om dakke te verf, en ‘n paar blombeddings weer lewe gee. Verder gaan ons hierdie jaar by Vredefort se Parys-ingang ‘n ligtoring oprig. Hierdie ligtoring word gebou met klippe uit die Vredefort Koepel, en sal simbolies wees van “Jesus Christus, die lig van die wêreld”. Ons wil graag ‘n beroep doen op Vredefort en Parys se inwoners en alle ander wat bereid is om te help, om hiermee hand by te sit. In ‘n klein dorpie maak ‘n bietjie harde werk ‘n baie groot verskil! Kontak gerus vir Johann Bloem (083 626 8103) of Adolf Greeff (083 419 7369) vir besonderhede rondom die dorp-opruimingsprojek.
KRUISTOG 2025 T-HEMDE
Op grond van baie navrae verlede jaar het ons dit hierdie jaar goedgedink om ‘n T-hemp te ontwerp wat mense vir hulleself kan aankoop om te dra die dag by die Kruistog. Hierdie T-hemde word vir die Kruistog vervaardig by Africa Pro Signs in Parys. Die T-hemde kom in wit of navy soos in die foto’s hier onder. T-hemde kos gemiddeld R150 elk afhangende van grootte. Dan is daar ook kepse te koop teen R100 elk. Jy is welkom om bestellings by hulle besigheid in Parys te gaan plaas, of hulle te skakel en dit telefonies te plaas.
Die skakelpersoon by Africa Pro Signs is Elsane en hulle telefoon nommer is 056 811 2508 of 067 405 9790.
Africa Pro signs hanteer alle bestellings, navrae en aflewerings self, die Kruistog beamptes sal nie daarmee kan behulpsaam wees nie.
Kontak besonderhede
info@kruistog.co.za / admin@kruistog.co.za
Bemarking en fasilitering:
Juan Greeff 079 874 1860
Administrasie:
Jani Greeff 082 256 7755
Administrasie:
Lizl D’Alebout 072 820 0531
Borge:
Andries D’Alebout 082 444 2825
Vlotte en jeug:
Paul Joubert 071 116 1755
Dorp-opruiming:
Johann Bloem 083 626 8103
Munisipale woordvoerder:
Blikkies Blignaut 072 260 6888
Sang en musiek:
Richann Brussouw 082 557 8796
Klank en beligting:
Vossie Vorster 079 888 0704
Finansies:
Trudie Vorster 072 791 3777